Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 3 APRIL 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui.Let asseblief op:Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTELS

Ons kondig met leedwese aan dat die sleutels van twee radioamateurs stil geraak het.Hulle is:

James Timoney, ZS1TK, van die Kaapse Amateurradiosentrum, in die ouderdom van 91.

Die tweede een is Johan Du Plooy, ZS6AYO, in die ouderdom van 84. Hy laat sy vrou, Joey, agter.

Ons opregte meegevoel gaan aan die familie en vriende van die oorledenes.

(POUSE)

In die nuus vandag:

PRESIDENTSNET VANAAND

NUWE REGULASIES WEK KOMMER

TOEWYSING VAN AMATEURBANDE – DIE FEITE

BESPREEK NOU VIR VAART OP MILJOENĘRSMYL

U luister na ZS6SRL.Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

NUUSFLITS – PRESIDENTSNET

Die SARL saai vanaand vanaf 19:30 SAT ’n Presidentsnet uit op herhalers in verskillende areas. Klubs wat hulle herhalers aan die telekonferensiebrug wil koppel, moet hulle landlynnommers vandag (Sondag) voor 12:00 middag stuur aan artoday@sarl.org. Dit sal ook op Echolink en 3 718 kHz beskikbaar wees.

NUWE REGULASIES WEK KOMMER

Die radioregulasies is op 31 Maart gepubliseer en het op 1 April 2011 in werking getree. Daar was ongelukkig ’n aantal foute wat OKOSA reeds besig is om reg te stel.

Die regulasie vir ’n ZU-lisensie is foutief; die woord “onder” is weggelaat voor “20 jaar”.Die situasie is soos volg: enigeen kan die klas B-eksamen skryf. Daar is geen ouderdomsperk nie, maar as u oor 20 jaar oud is, mag u nie aansoek doen vir ’n klas B-lisensie, ook bekend as ’n ZU-lisensie, nie. As u ’n klas B-kwalifikasie het, mag u die ZU-lisensie behou tot u 25 is, wanneer die lisensie wegval.

Daar is nog nie uitsluitsel gegee oor die posisie van huidige ZU-lisensiehouers nie. OKOSA sal waarskynlik ’n grasieperiode van twee jaar toestaan aan persone ouer as 25 jaar met ’n klas B-kwalifikasie, om hul klas B-sertifikaat tot klas A op te gradeer en vir ’n klas A-lisensie aansoek te doen. Opgradering behels die aflę van die klas A-eksamen.

Kandidate oor 20 jaar oud wat vir die klas B-eksamen ingeskryf het, mag dit nog aflę, maar moet daarop let dat hulle nie om ’n amateurradiolisensie aansoek mag doen nie. Die SARL beveel aan dat u u registrasie na klas A verander of vra dat u registrasie uitgestel word tot die Oktober-eksamen om u meer tyd te gee om te studeer.

Soos gebruiklik bly die Regulasieleerplan vir die Mei-eksamen onveranderd, omdat die termyn reeds halfpad verstreke is. Kandidate word dus geëksamineer op die regulasies wat van krag was toe hulle vroeër vanjaar ingeskryf het. Die eksamenvraestelle is reeds voltooi. In die Oktober-eksamen word kandidate geëksamineer op die nuwe regulasies en enige wysigings wat binnekort gepubliseer mag word.

As u tans ’n ZR is, het u nou dieselfde voorregte as ’n ZS-lisensiehouer. Die opgraderingsproses val weg. Die nuwe toekenningstabel vir amateurradiofrekwensies is nie korrek nie.Z R sowel as ZS moet hou by die frekwensies en kragbeperkinge wat A1 gemerk is. ZR-lisensiehouers hoef nie hulle roepsein te verander nie.

TOEWYSING VAN AMATEURBANDE – DIE FEITE

Daar heers steeds verwarring oor die toewysing van amateurfrekwensies. Hoewel die ITU by die Węreld-radiokonferensie op toewysing van frekwensies besluit, word hierdie toewysings net by nasionale reguleerders aanbeveel.

In Suid-Afrika is frekwensietoewysing ’n funksie van die Tabel van Frekwensietoewysings wat deur OKOSA ontwikkel word en in die Staatskoerant verskyn. OKOSA is onder geen verpligting om outomaties die besluite van die ITU toe te pas nie.

Dit is OKOSA se taak om die spektrum in die beste belang van alle Suid-Afrikaners te reguleer. ’n Goeie voorbeeld is die uitbreiding van die 40 meter-amateurband met 100 kHz tot 7 200 kHz. Die ITU het aanbeveel dat dit teen ’n bepaalde datum uitgevoer word. Danksy die SARL se bemiddeling by OKOSA is ’n afsonderlike regulasieverandering in die Staatskoerant gepubliseer om die uitbreiding van die 40 meter-band in Suid-Afrika te implementeer.

As die SARL dit nie gedoen het nie, sou die uitbreiding eers twee jaar later plaasgevind het wanneer die volgende Tabel van Frekwensietoewysing verskyn. En, selfs al verskyn die uitbreiding in die Tabel van Frekwensietoewysing, moet die regulasies steeds verander word. Dit sou eers vanjaar plaasgevind het.

Die ITU beveel aan en OKOSA pas toe. Daarom hou die SARL gereeld vergaderings met OKOSA om amateurradio se belange te behartig. Amateurradio is ’n baie klein onderdeel van OKOSA se werk. Die SARL glo dat ons bevoorreg is omdat die senior OKOSA-amptenare amateurradio ondersteun en met ons saamwerk om amateurradio in Suid-Afrika uit te bou.

NUWE SARL-REKORD OP 70 MHz
Mike Bosch, ZS2FM, berig dat Pieter, V51PJ, van Rosh Pinah en Andre, ZS2ACP, van Port Elizabeth op 29 Maart 2011 die heel eerste digitale kontak tussen Namibië en Suid-Afrika gemaak het oor ’n afstand van 1 086 km. Dit is opgevolg deur nog ’n FSK441-kontak tussen V51PJ en Paul, ZS6NK, van Polokwane, en ’n nuwe digitale rekord van 1 346 km op 70 MHz vir die SARL. Ons wens julle drie baanbrekers hartlik geluk.

FSK441 gebruik frekwensieskuifsleuteling teen ’n transmissiesnelheid van 441 Hz. Vier afsonderlike tone word gebruik, naamlik 882, 1 323, 1 764, en 2 205 Hz. Elke geënkodeerde karakter bestaan uit drie toonintervalle en benodig dus 3/441 sekondes (sowat 2,3 ms) vir versending. FSK441 akkommodeer ’n potensiële "alfabet" van 48 karakters. Die huidige enkoderingskema gebruik 43 van dié karakters.

BESPREEK NOU VIR VAART OP MILJOENĘRSMYL

Daar is nog net 20 plekke beskikbaar op die bootvaart langs die Miljoenęrsmyl op die Vaal. Begin die 2011 SARL Nasionale Konvensie op 15 April met swier. Bespreek nou om teleurstelling te voorkom! Geniet die Vaal en ’n heerlike aandete in die Liquid Lounge en staan ’n kans om te wen: Kobus ,ZS1K ,van Lets Play Radio het ’n tweeband BHF/UHF-handsendontvanger geskenk. Die trekking vind op die bootvaart plaas. Bespreek nou. Dit word verwag dat die 20 plekke vinnig opgeraap sal word. Vir volle besonderhede en bespreking: gaan na www.qsl.net/zs4srk of volg die skakel van www.sarl.org.za. Daardie tweebandradio is dalk net jou gelukkie van die aand.

NUWE LEDE

Die SARL se ledetal staan nou op 1 527 met nog nuwe lede wat hulle by ons aangesluit het. Hartlik welkom aan die volgende nuwe stemme:
Dirk van Vuuren – ZSL1009
Louis Bredenhann – ZSL1010
Norman Esterhuizen – ZSL1011
Neil Ritson – ZSL1012
Andrew van Heerden – ZSL1013
Jeffrey Grusd – ZS6IRQ

KOMPETISIENUUS

Die eerste been van die SARL se 80 m QSO-naelloop is Donderdag 7 April op die lug van 17:00 tot 20:00 UTC, met foonaktiwiteit tussen 3 603 en 3 650 kHz en tussen 3 700 en 3 800 kHz.

Die uitruiling is u roepsein, RS-seinverslag en operateursnaam. U kry 10 punte vir elke kontak met ’n Suid-Afrikaanse stasie en 15 punte vir elke kontak met ’n stasie buite Suid-Afrika. Logstate moet teen 14 April ingedien word by die Durbanse ARK, Brownlee-Oord 17, Bluff, Durban, 4052, of per e-pos aan zs5lp@vodamail.co.za.

VOORTPLANTINGSVERSLAG

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat sonaktiwiteit steeds op matige vlakke is. Sonvlek 1 176, 1 180 en 1 183 verbly tans die harte van HF-operateurs. Daar was ’n klompie uitstekende DX-openinge die afgelope week. Die effektiewe sonvlektelling sal vandeesweek na verwagting sowat 75 wees.

15 m bied die beste geleenthede vir DX gevolg deur 20 m. Danksy die meer aktiewe sonvlekke sal 10 m eerste oopmaak gevolg deur die laer bande in die loop van die dag. Toestande na Indië sal goed wees van die middag tot na sononder. In die laatmiddag sal toestande na Europa goed wees. Redelike kontakte met die VSA is in die loop van die aand moontlik. Kontakte met Australië op 20 m is moontlik na sononder. Openinge na Brasilië en Suid-Amerika is smiddae moontlik. Met die goeie 15 en 20 m-openinge gaan 17 en 12 m ook vol verrassings wees.

30 m kan vir die digitale en gelykgolfentoesiaste baie lonend wees met openinge na verskeie dele van die węreld.

Plaaslik is 40 m die beste keuse met 20 en 30m wat goeie kontakte oor die langer afstande kan oplewer.80 m is op sy beste vroeg soggens en laat smiddae en ook oor korter afstande.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

2 April – Die Presidentsnet vanaand om 19:30 SAT.
7 April – SARL 80 m QSO-party, 17:00 to 20:00 UTC.
15-16 April –SARL Se Nasionale Konvensie by die Vaal Universiteit vir Tegnologie.
7 Mei – RTA in Kaapstad
18 Junie – kursus in programmering in Windows in Gauteng.Bespreek by www.sarl.org.za.

Sarl-Nuus nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit – indien moontlik – in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 750 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO.Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 18:30 SAT op 3 230 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na ’n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Hester van der Walt en geredigeer deur George, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het. 73.
/EX



Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003